1 Timoteus 5:11-20 Bybel vir Almal (ABA)

11. Maar jy moenie die jonger weduwees se name op die lys van weduwees skryf nie, want wanneer hulle aan mans dink, dan vergeet hulle miskien dat hulle vir Christus moet werk, en dan wil hulle graag weer trou.

12. Dan is hulle skuldig, want hulle doen nie wat hulle vir Christus belowe het nie.

13. Hulle leer ook om nie te werk nie, hulle kuier by al die huise. Hulle doen niks, hulle skinder en hulle is nuuskierig oor ander mense, en hulle praat oor dinge waaroor ’n mens nie moet praat nie.

14. Ek wil hê die jonger weduwees moet trou en hulle moet kinders kry en goed sorg vir hulle huisgesinne. Dan sal ons vyande nie slegte dinge van ons kan sê nie.

15. Party weduwees het klaar begin doen wat die Satan wil hê.

16. As ’n vrou wat in Christus glo, weduwees in haar familie het, dan moet sy vir hulle sorg. Sy moenie dink dat die gemeente vir daardie weduwees moet sorg nie. Die gemeente kan dan sorg vir die weduwees wat nie familie het nie.

17. Daar is ouderlinge wat goeie leiers is. Die gelowiges moet hulle respekteer en beloon, spesiaal die ouderlinge wat baie hard werk en preek en vir die mense leer.

18. Want in die Ou Testament is geskryf: “Jy mag nie ’n bees se bek toebind wanneer hy op die dorsvloer werk nie.”En daar is ook geskryf: Wanneer iemand werk,dan moet jy hom beloon.

19. Julle moenie luister na iemand wat sê dat ’n ouderling verkeerde dinge gedoen het nie, maar wanneer daar twee of drie getuies is, dan moet julle na so iemand luister.

20. Wanneer ouderlinge aanhou om sonde te doen, dan moet jy voor die hele gemeente sê dat hulle dinge doen wat verkeerd is. Jy moet dit doen sodat die ander ouderlinge ook bang kan word.

1 Timoteus 5