10. Die Here het vir Samuel gesê:
11. “Ek is jammer dat Ek vir Saul koning gemaak het, want hy was ontrou, hy het nie gedoen wat Ek gesê het nie.”Samuel was baie bekommerd en ontsteld. Hy het die hele nag tot die Here gebid en gevra dat die Here hom moet help.
12. Hy het vroeg die oggend opgestaan om Saul te gaan ontmoet. Iemand het vir Samuel gesê: “Saul het na Karmel-berg gekom, en weet jy wat het hy gedoen? Hy het vir homself ’n gedenkteken ingeplant. Daarna het hy verder gegaan na die stad Gilgal.”
13. Samuel het na Saul toe gegaan, en Saul het vir hom gesê: “Ek bid dat die Here dit goed sal laat gaan met jou. Ek het gedoen wat die Here gesê het.”
14. Toe sê Samuel: “Maar hoekom hoor ek skape en bokke blêr en beeste bulk?”
15. Saul het gesê: “Die manne het die diere van die Amalekiete gevat. Hulle het die beste skape en bokke en beeste laat lewe om dit te offer vir jou God die Here. Hulle het al die ander diere doodgemaak.”
16. Samuel sê toe vir Saul: “Bly stil. Ek sal vir jou sê wat die Here gisteraand vir my gesê het.”Saul het gesê: “Goed, ek luister.”
17. Toe sê Samuel: “Jy het gesê jy is nie ’n belangrike man nie, maar jy is nou die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf en Hy het jou koning oor Israel gemaak.
18. Die Here het jou gestuur en Hy het gesê jy moet die sondaars, die Amalekiete, gaan doodmaak, jy moet teen hulle gaan oorlog maak totdat jy hulle almal doodgemaak het.
19. Hoekom het jy nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie? En hoekom het jy so vinnig hulle goed gaan vat en iets gaan doen waarvan die Here nie hou nie?”
20. Saul het vir Samuel gesê: “Maar ek hét gedoen wat die Here gesê het, ek hét gegaan toe Hy my gestuur het. Ek het vir Agag, die koning van die Amalekiete, hiernatoe gebring, maar ek het al die Amalekiete doodgemaak.