1 Kronieke 6:55-63 Bybel vir Almal (ABA)

55. Die Juda-stam het vir hulle die stad Hebron gegee, en ook die weiveld rondom die stad.

56. Maar die stam het vir Kaleb seun van Jefunne die grond buite die stad gegee, hy kon daar ploeg en plant. Hulle het ook die muur rondom die grond vir hom gegee.

57. Die Juda-stam het vir die nageslag van Aäron die asielstad Hebron gegee en ook die stede Libna, Jattir, Estemoa,

58. Giles, Debir,

59. Asan en Bet-Semes. Hulle het ook die weiveld gekry wat rondom die stede was.

60. Die Benjamin-stam het vir die Leviete die stede Geba, Alemet en Anatot gegee. Hierdie Leviete-families het almal saam 13 stede gekry.

61. Die ander families van die nageslag van Kehat het tien stede gekry, dit was waar die halwe Manasse-stam gewoon het.

62. Die families van die nageslag van Gersom het 13 stede gekry van die stamme Issaskar, Aser en Naftali en van die Manasse-stam wat in Basan gewoon het.

63. Die families van die nageslag van Merari het twaalf stede gekry van die stamme Ruben, Gad en Sebulon.

1 Kronieke 6