1 Kronieke 17:18-27 Bybel vir Almal (ABA)

18. Wat kan ek, Dawid, nog vir U sê, vir U wat u dienaar so belangrik laat voel? Here, U ken u dienaar.

19. U het besluit om dit vir u dienaar te doen en U het hierdie groot ding gedoen om vir u dienaar hierdie wonderlike dinge te sê.

20. Here, daar is niemand soos U nie. U alleen is God, ons weet nie van ’n ander God nie.

21. En wie is soos u volk Israel? U het net vir húlle gekies uit al die volke op die aarde en U het hulle vrygemaak om u volk te wees. U het groot en wonderlike dinge gedoen toe U ander volke weggejaag het sodat u volk in die land kan woon, u volk wat U vrygemaak het uit Egipte. Daarom ken almal u Naam.

22. U het u volk Israel ’n volk gemaak wat nog lank daar sal wees, want U, Here, het hulle God geword.

23. En nou, Here, U het dinge belowe oor my, u dienaar, en oor my koningshuis. U moet nou daardie dinge waar laat word, dit moet nog lank so wees. U moet doen wat U gesê het.

24. U moet altyd dieselfde bly en belangrik wees, en die mense moet sê: ‘Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, is God oor Israel.’ En die koningshuis van u dienaar Dawid moet altyd regeer en hulle moet vir U dien.

25. Want U, my God, dit is U wat vir my, u dienaar, gesê het dat U ’n koningshuis vir my sal bou. Dit is hoekom u dienaar hierdie gebed tot U kon bid.

26. En nou, Here, U alleen is God, en U het hierdie goeie ding oor u dienaar gesê.

27. U het nou begin om dit goed te laat gaan met u dienaar se koningshuis, sodat hulle altyd sal regeer en U sal dien. Want, Here, U het gesê dit sal goed gaan, en daarom sal dit altyd goed gaan.”

1 Kronieke 17