38. Al hierdie manne het na die stad Hebron gekom. Hulle was gereed om oorlog te maak en hulle almal wou graag help om vir Dawid koning te maak oor al die Israeliete. Al die Israeliete wat nie gekom het nie, wou ook graag vir Dawid koning maak.
39. Die manne wat gekom het, was drie dae lank daar by Dawid. Die mense van Hebron het vir hulle kos gegee.
40. Ander mense van die stamme Issaskar, Sebulon en Naftali was naby en hulle het ook kos gebring. Hulle het meel, vyekoeke, druiwe, wyn en olyf-olie gebring op donkies, kamele, muile en beeste. Hulle het ook baie beeste en skape en bokke gebring, want al die Israeliete was baie bly.