5. Elia het gaan lê, en hy het onder die besembos aan die slaap geraak. Toe kom daar ’n engel en die engel raak aan hom en sê vir hom: “Jy moet opstaan en eet.”
6. Toe Elia kyk, sien hy by sy kop ’n gaar roosterkoek en ’n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.
7. Maar toe raak die engel weer aan hom en hy sê: “Jy moet opstaan en eet. As jy dit nie doen nie, dan sal jy nie die hele pad kan loop nie.”
8. Elia het toe opgestaan en geëet en gedrink. En daardie kos het hom so sterk gemaak dat hy 40 dae en 40 nagte lank geloop het tot by Horeb, die berg van God.
9. Daar het hy by ’n grot gekom en gaan slaap. Toe hoor hy die Here vra vir hom: “Elia, wat doen jy hier?”
10. Elia het gesê: “Ek het baie hard gewerk vir die Here, die God wat oor alles regeer, maar die Israeliete het nie gedoen wat U in u verbond gesê het nie. Hulle het u altare afgebreek en hulle het u profete doodgemaak, ek het alleen oorgebly. En nou wil hulle my ook doodmaak.”
11. Toe sê die Here: “Gaan uit en gaan staan op die berg voor My.”En toe kom die Here daar verby. Daar was ’n sterk wind, dit het die berg geskud en die rotse gebreek voor die Here. Maar die Here was nie in die wind nie. En ná die wind was daar ’n aardbewing. Maar die Here was nie in die aardbewing nie.
12. En ná die aardbewing was daar ’n vuur. Die Here was ook nie in die vuur nie. En ná die vuur het Elia iets gehoor soos wanneer iemand baie sag praat.
13. Toe hy dit hoor, het hy sy gesig toegemaak met sy bo-kleed. Hy het uitgegaan en hy het voor die grot gaan staan. En daar hoor hy toe ’n stem wat vra: “Elia, wat doen jy hier?”
14. Elia het gesê: “Ek het baie hard gewerk vir die Here, die God wat oor alles regeer, maar die Israeliete het nie gedoen wat U in u verbond gesê het nie. Hulle het u altare afgebreek en hulle het u profete doodgemaak, ek het alleen oorgebly. En nou wil hulle my ook doodmaak.”