Spreuke 13:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. 'n Wyse seun laat hom leer deur sy vader,'n ligsinnige slaan nie eens op dreigemente ag nie.

2. 'n Mens kan voorspoedig worddeur altyd die regte woorde te gebruik;onbetroubare mense is net uit op geweld.

3. Wie sy mond in bedwang hou, behou sy lewe;wie sy mond nie kan hou nie, gaan sy ondergang tegemoet.

4. Die luiaard se honger word nie gestil nie;hardwerkende mense het meer as genoeg om te eet.

5. Die regverdige haat leuens;die goddelose maak hom gehaat en veragtelik.

6. Die opregte bly behouedeur sy gehoorsaamheid aan die Here;ongehoorsaamheid laat die sondaar te gronde gaan.

7. Party mense hou hulle ryk maar het niks nie;party doen hulle arm voor maar besit baie.

8. Met sy rykdom moet 'n ryk man hom soms loskoop;'n arm man kom nie in so 'n gevaar nie.

9. Die lewe van die regverdiges is vol vreugde;die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof.

10. Selfverheffing lei altyd tot twis;dié wat goeie raad aanneem, het wysheid.

11. Rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik;wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, word ryk.

12. 'n Verwagting wat nie uitkom nie, maak 'n mens mismoedig;'n begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe.

13. Wie hom nie aan die woorde van die Here steur nie,sal die gevolge dra;wie eerbied het vir sy gebooie, sal die goeie vrugte pluk.

14. Wat wyse mense jou leer, is 'n bron van lewe;dit laat jou die strikke van die dood vermy.

Spreuke 13