Rut 2:7-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Sy het gevra of sy are agter die snyers mag optel. Sy het toe gekom en is nog al die tyd besig van vanmôre af tot nou toe. Sy rus nou net 'n bietjie.”

8. Boas sê toe vir Rut: “Luister, my dogter, moenie op 'n ander land gaan are optel nie; moet ook nie hier weggaan nie. Bly hier by die meisies.

9. Bly op die land waar hulle oes, en volg hulle. Ek het die mans aangesê om jou nie lastig te val nie. En wanneer jy dors is, gaan na die waterkruike toe en drink van die water wat die werksmense vir hulle geskep het.”

10. Rut het diep gebuig voor Boas en gevra: “Waarom is u so goed vir my en stel u belang in my, in 'n buitelander?”

11. Boas antwoord haar toe: “Ek weet van alles wat jy vir jou skoonma gedoen het na die dood van haar man en dat jy jou ouers en jou geboorteland verlaat het en na 'n volk toe gekom het waarvan jy vantevore niks geweet het nie.

12. Mag die Here jou beloon vir wat jy gedoen het. Mag jy 'n welverdiende beloning ontvang van die Here die God van Israel onder wie se vleuels jy kom skuil het.”

13. Sy het geantwoord: “Meneer, u bewys my 'n guns, u laat my goed voel, u is vriendelik met my, al is ek nie eers een van u slavinne nie.”

14. Toe dit etenstyd was, sê Boas vir haar: “Kom hierheen en eet 'n stukkie brood en doop dit in die wynsous.”Sy het toe by die snyers gaan sit, en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Nadat sy genoeg geëet het en selfs oorgehou het,

15. het sy opgestaan om weer te gaan are optel. Boas het sy werkers toe beveel: “Sy mag selfs tussen die gerwe are optel en julle mag haar nie pla nie;

Rut 2