Romeine 7:12-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Die wet is dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed.

13. Beteken dit dat iets wat goed is, vir my die dood gebring het? Beslis nie. Inteendeel, die sonde het vir my die dood gebring. Dit het die sonde gedoen deur iets wat goed is, sodat die sonde in sy ware aard as sonde bekend sou word en dit deur die gebod sou blyk hoe skrikwekkend die sonde werklik is.

14. Ons weet tog die wet is geestelik, maar ek is aards en soos 'n slaaf aan die sonde verkoop.

15. Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek.

16. Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17. Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

18. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie.

19. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.

20. En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

Romeine 7