5. Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag, wanneer God sy regverdige oordeel sal uitspreek.
6. Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade:
7. aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na ewige heerlikheid, eer en onverganklikheid, gee Hy die ewige lewe;
8. maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn.
9. Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen, in die eerste plek oor dié van die Jood, maar ook oor dié van die nie-Jood.
10. Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood.
11. God trek immers niemand voor nie.
12. Almal wat sonder die wet van Moses gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, oor hulle sal volgens die wet geoordeel word.
13. Nie dié wat die wet hoor, word deur God vrygespreek nie, maar dié wat doen wat die wet sê, sal vrygespreek word.
14. Wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself 'n wet al het hulle nie die wet nie.
15. Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan. Ook hulle gewetens getuig daarvan wanneer hulle in 'n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word.
16. Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.
17. Jy, jy sê jy is 'n Jood, jy verlaat jou op die wet van Moses, jy beroem jou daarop dat God jou God is,
18. jy ken sy wil en jy onderskei die dinge waar dit werklik op aankom, omdat jy deur die wet onderrig word.