Romeine 1:6-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Julle is hierby inbegrepe; ook julle is geroep om aan Jesus Christus te behoort.

7. Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

8. Allereers dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal, want in die hele wêreld praat die mense oor julle geloof.

9. God, wat ek met hart en siel dien deur die evangelie van sy Seun te verkondig, is my getuie dat ek gedurig in my gebede aan julle dink.

10. Elke keer as ek bid, vra ek God of Hy dit nie uiteindelik vir my moontlik wil maak om julle te besoek nie.

11. Ek sien baie daarna uit om julle te besoek, want ek wil 'n geestelike gawe aan julle oordra om julle te versterk.

12. Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s'n en julle deur myne.

13. Broers, ek wil hê julle moet weet dat, hoewel ek tot nog toe verhinder is, ek my dikwels voorgeneem het om julle te besoek om ook by julle, net soos by die ander heidennasies, mense vir Christus te wen.

14. Ek staan onder 'n verpligting teenoor Grieke en nie-Grieke, teenoor ontwikkeldes en ongeleerdes,

15. en vandaar my begeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig.

Romeine 1