Rigters 18:6-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Die priester het vir hulle gesê: “Gaan gerus! Die Here is by julle op julle reis.”

7. Die vyf mans is toe daar weg, en hulle het in Lajis gekom. Hulle het opgemerk dat die inwoners rustig woon, hulle was sonder agterdog en houtgerus soos die mense van Sidon maar was. Hulle het nooit iets in hulle land kortgekom nie, hulle besittings was veilig. Hulle was ver van die ander mense van Sidon af en was nie in aanraking met ander mense nie.

8. Die vyf mans het teruggekom by hulle familie in Sora en in Estaol, en dié het vir hulle gevra: “Wat het julle gesien?”

9. Toe antwoord hulle: “Kom ons trek daarnatoe. Ons het die land gesien. Dit is baie mooi. Wat sit julle nog stil? Moenie talm om die land in besit te gaan neem nie.

10. Wanneer julle trek, sal julle by 'n volk kom wat houtgerus is en by 'n land wat oop lê na weerskante toe. Die Here gee vir julle 'n plek waar daar nie gebrek is aan enigiets op aarde nie.”

11. Ses honderd goed gewapende man uit die stam Dan het toe uit Sora en uit Estaol opgetrek.

12. Hulle het kamp opgeslaan by Kirjat-Jearim in Juda. Daarom word die plek, wat net agter Kirjat-Jearim lê, nou nog Magane-Dan genoem.

13. Van daar af het hulle na die Efraimsberge toe getrek en by Miga se huis gekom.

14. Die vyf man wat die land by Lajis gaan verken het, het vir hulle stamgenote gesê: “Julle weet, in hierdie huis is daar 'n efodbeeld, afgodsbeeldjies en 'n godsbeeld. Julle weet nou wat julle behoort te doen.”

15. Hulle het daar ingedraai en na die huis van die jongman, die Leviet, toe gegaan by Miga se huis en die jongman gegroet.

16. Die ses honderd goed gewapende man uit die stam Dan het by die deur gaan staan,

Rigters 18