18. en toe die vyf man die huis van Miga ingaan en die godsbeeld en die efodbeeld en die afgodsbeeldjies vat, sê die priester vir hulle: “Wat doen julle?”
19. Maar hulle sê vir hom: “Bly stil! Moenie praat nie! Kom saam met ons en wees ons leermeester en priester. Is dit vir jou beter om priester te wees vir een man se huis of vir al die mense van 'n stam in Israel?”
20. Die priester was toe tevrede, en hy het die efodbeeld, die afgodsbeeldjies en die godsbeeld gevat en saam met die mense van Dan gegaan.
21. Hulle het toe weggedraai en vertrek met hulle kinders en vee en besittings op die voorpunt.
22. Toe hulle 'n ent weg is van Miga se huis af, het hy die hulp ingeroep van die mense wat in sy omgewing bly. Hulle het die mense van Dan ingehaal
23. en vir hulle geskreeu, maar die mense van Dan het omgekyk en vir Miga gesê: “Wat is dit met jou dat jy so te kere gaan?”
24. Toe sê hy: “Maar julle het my god wat ek gemaak het, gevat en ook my priester, en nou gaan julle weg. Wat het ek nou oor? Hoe sê julle vir my: Wat is dit met jou?”
25. Die mense van Dan het hom geantwoord: “Moenie hier by ons kom staan en lawaai nie! Netnou val 'n klompie roekelose manne jou aan en dan maak hulle jou en jou mense dood.”