12. Hulle het kamp opgeslaan by Kirjat-Jearim in Juda. Daarom word die plek, wat net agter Kirjat-Jearim lê, nou nog Magane-Dan genoem.
13. Van daar af het hulle na die Efraimsberge toe getrek en by Miga se huis gekom.
14. Die vyf man wat die land by Lajis gaan verken het, het vir hulle stamgenote gesê: “Julle weet, in hierdie huis is daar 'n efodbeeld, afgodsbeeldjies en 'n godsbeeld. Julle weet nou wat julle behoort te doen.”
15. Hulle het daar ingedraai en na die huis van die jongman, die Leviet, toe gegaan by Miga se huis en die jongman gegroet.
16. Die ses honderd goed gewapende man uit die stam Dan het by die deur gaan staan,
17. en die vyf wat die land gaan verken het, het by die huis ingegaan en die godsbeeld en die afgodsbeeldjies en die efodbeeld gevat. Die priester het by die deur gestaan by die ses honderd goed gewapende man,
18. en toe die vyf man die huis van Miga ingaan en die godsbeeld en die efodbeeld en die afgodsbeeldjies vat, sê die priester vir hulle: “Wat doen julle?”
19. Maar hulle sê vir hom: “Bly stil! Moenie praat nie! Kom saam met ons en wees ons leermeester en priester. Is dit vir jou beter om priester te wees vir een man se huis of vir al die mense van 'n stam in Israel?”
20. Die priester was toe tevrede, en hy het die efodbeeld, die afgodsbeeldjies en die godsbeeld gevat en saam met die mense van Dan gegaan.
21. Hulle het toe weggedraai en vertrek met hulle kinders en vee en besittings op die voorpunt.
22. Toe hulle 'n ent weg is van Miga se huis af, het hy die hulp ingeroep van die mense wat in sy omgewing bly. Hulle het die mense van Dan ingehaal
23. en vir hulle geskreeu, maar die mense van Dan het omgekyk en vir Miga gesê: “Wat is dit met jou dat jy so te kere gaan?”