7. Daar was 'n jongman uit Betlehem in Juda wat aan die Judastam behoort het. Hy was 'n Leviet en het as vreemdeling in Betlehem gewoon.
8. Hy het van daar af weggegaan om 'n ander woonplek te gaan soek. Hy het op die Efraimsberge uitgekom by die huis van Miga om daar 'n heenkome te vind.
9. Miga het vir hom gevra: “Waarvandaan kom jy?” en hy het geantwoord: “Ek is 'n Leviet uit Betlehem in Juda en ek is onderweg op soek na 'n woonplek.”
10. Toe sê Miga vir hom: “Bly by my en wees vir my 'n leermeester en 'n priester, dan gee ek jou honderd en veertien gram silwer in 'n jaar, en kos en klere.”
11. Die Leviet het ingestem om by die man te bly, en die jongman was vir Miga soos een van sy eie seuns.
12. Miga het die Leviet as priester gewy, en die jongman het Miga se priester geword en in Miga se huis gebly.
13. Toe sê Miga: “Nou weet ek die Here sal vir my goed wees, want die Leviet het my priester geword!”