Psalms 104:13-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Uit die hemel laat U dit op die berge reën,die aarde word versadig deur die reën wat U gee.

14. U laat gras uitspruit vir die diere,en groen plante vir die menssodat hy sy kos uit die aarde kan kry:

15. wyn om mense se harte bly te maak,olie om die gesig te versorg,kos om die mens nuwe krag te gee.

16. Die bome van die Here kry volop reën,die seders op die Libanon, dié wat Hy geplant het,

17. waar die voëls hulle neste maak,en die reier sy huis in die boomtoppe bou.

18. Die hoë berge is 'n tuiste vir die klipbokke,die rotse is 'n skuilplek vir die dassies.

19. U het die maan gemaak om die vaste tye mee aan te gee,die son weet wanneer om onder te gaan.

20. As U die donker bring en dit nag word,roer al die diere in die bos.

21. Die leeus brul op soek na prooi:hulle vra hulle kos van God.

22. As die son opkom, sluip hulle wegen gaan lê in hulle skuilplekke.

23. Dan gaan die mens na sy werk toe,en hy werk tot die aand.

24. U het baie dinge geskep, Here,die aarde is vol van wat U gemaak het,en tog, U het alles in wysheid geskep.

25. Daar is die see, groot en wyd,wat wemel van diere, klein en groot.

26. Daar vaar die skepe,en daar is die Leviatan.U het hom gemaak om mee te speel.

27. Hulle is almal van U afhanklik,U gee hulle kos op hulle tyd.

28. U gee, en hulle eet,U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg.

Psalms 104