2-3. “Tel die Leviete tussen dertig en vyftig jaar, almal wat van Kehat afstam. Doen dit volgens afstamming van familie. Dit moet almal insluit wat vir diens geskik is, wat die werk in die tent van ontmoeting kan verrig.
16. “Eleasar seun van die priester Aäron moet toesig hou oor die olie vir die kandelaar, die geurige wierook, die gereelde graanoffer en die salfolie. Hy moet toesig hou oor die hele tabernakel en alles wat daarin is, oor die heiligdom met sy gereedskap.”
17. Die Here het ook nog vir Moses en Aäron gesê:
18. “Julle moet voorsorg tref dat die Kehatgroep van Levi nie met die dood gestraf word nie.
19. Wanneer hulle kom om die gewyde voorwerpe te dra, moet Aäron en sy seuns vir hulle presies aandui wat elkeen van hulle moet doen en dra, sodat hulle kan bly lewe en nie met die dood gestraf word nie.
20. Die Kehatiete mag selfs nie 'n oomblik na die heiligdom kom kyk nie, want dan sal hulle sterwe.”
21. Die Here het vir Moses gesê:
22. “Jy moet ook die afstammelinge van Gerson tel. Doen dit volgens familie en afstamming.
23. Jy moet almal tussen dertig en vyftig jaar tel wat vir diens geskik is en wat die werk in die tent van ontmoeting kan verrig.
24. Die ampsplig van die Gersongroep is om drawerk te doen:
25. hulle moet die tentdoeke van die tabernakel, die tent van ontmoeting, dra, sy seil en die seil van gebreide vel wat daarbo-oor is, die gordyn by die ingang van die tent van ontmoeting
26. en die gordyn by die ingang van die voorhof, asook die gordyne van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, die toue en al die nodige gereedskap. Vir al hierdie dinge is hulle verantwoordelik.
27. Al die ampspligte van die Gersongroep, alles wat hulle moet dra en doen, moet onder toesig van Aäron en sy seuns verrig word. Hulle moet toesien dat die Gersongroep al hulle opdragte uitvoer.
28. Dit is dan die ampspligte van die Gersongroep in verband met die tent van ontmoeting. Hulle werk staan onder toesig van Itamar seun van die priester Aäron.”