Numeri 34:3-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. “Julle suidgrens is die grens van die Suidland, van die Sinwoestyn af tot teen Edom. Aan die oostekant begin hierdie grens by die suidelike punt van die Soutsee,

4. daarvandaan draai dit suid van Skerpioenpas weg en loop dit deur tot by Sin. Daarvandaan gaan dit suid van Kades-Barnea tot by Gasar-Addar en dan verby tot by Asmon,

5. waar dit wegdraai en met Egiptespruit langs loop tot by die see.

6. “Julle wesgrens is die Groot See.

7. “Julle noordgrens moet loop van die Groot See af: trek 'n lyn van daar af tot by Horberg in die noorde,

8. en van daar af tot by Lebo-Hamat. Daarvandaan loop die grens na Sedad toe

9. en verder tot by Sifron en Gasar-Enan. Dit is julle noordgrens.

10. “Vir julle oosgrens moet julle 'n lyn trek van Gasar-Enan af tot by Sefam.

11. Die grens loop dan van Sefam af tot by Ribla, oos van Ajin, en daarvandaan teen die oostelike oewer van die Gennesaretmeer en dan met

12. die Jordaan langs tot by die Soutsee.“Dit is die grense van julle hele land.”

13. Moses het vir die Israeliete gesê: “Dit is die land wat julle deur loting moet verdeel, die gebied wat volgens bevel van die Here aan die nege en 'n halwe stamme gegee moet word.

14. Die families in die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam het reeds hulle grond gekry.

15. Hierdie twee en 'n halwe stamme het hulle grond regoor Jerigo, oos van die Jordaan, gekry.”

16. Die Here het ook nog vir Moses gesê:

17. “Die manne wat die land vir julle moet verdeel, is die priester Eleasar en Josua seun van Nun.

18. Stel een leier uit elke stam aan om die land te help verdeel.

Numeri 34