37. ook van die style rondom die voorhof, met voetstukke, penne en toue.
38. Moses, Aäron en Aäron se seuns het aan die oostekant voor die tabernakel, voor die tent van ontmoeting, kamp opgeslaan. Aäron en sy seuns het die diens van die tabernakel in belang van Israel waargeneem. 'n Onbevoegde persoon wat nader gekom het om te help, moes doodgemaak word.
39. Die manlike Leviete van 'n maand en ouer wat deur Moses en Aäron op bevel van die Here volgens families getel is, was altesaam twee en twintig duisend.
40. Die Here het ook vir Moses gesê: “Tel al die manlike eersgeborenes van die Israeliete van 'n maand en ouer, en maak 'n lys van hulle name.
41. In die plek van al die eersgeborenes uit Israel moet jy die Leviete vir my diens beskikbaar stel, en ook die Leviete se vee in die plek van al die eerstelinge onder die vee van die Israeliete. Ek is die Here.”
42. Moses het toe volgens die bevel van die Here al die eersgeborenes van die Israeliete getel.
43. Die manlike eersgeborenes van 'n maand en ouer wie se name opgeskryf is, was twee en twintig duisend twee honderd drie en sewentig.
44. Die Here het verder vir Moses gesê:
45. “Stel die Leviete beskikbaar vir my diens in die plek van al Israel se eersgeborenes; neem ook die Leviete se vee in die plek van die Israeliete s'n. Die Leviete behoort aan My. Ek is die Here.
46. Die twee honderd drie en sewentig eersgeborenes uit die Israeliete wat daar meer is as Leviete, moet losgekoop word.
47. Jy moet vyf silwerstukke per kop invorder; bereken volgens die standaardgewig van die heiligdom is dit elf gram per silwerstuk.
48. Die geld vir hierdie groter getal eersgeborenes van die Israeliete moet jy as losprys aan Aäron en sy seuns gee.”
49. Moses het toe die loskoopgeld ingevorder vir dié eersgeborenes wat daar meer was as dié wat reeds met Leviete losgekoop is.
50. Hierdie geld het hy geneem van die eersgebore Israeliete, vyftien en 'n half kilogram silwer.
51. Dit het Moses in opdrag van die Here aan Aäron en sy seuns gegee, soos die Here hom beveel het.