Numeri 25:7-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Toe Pinehas seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, sien wat die man doen, het hy uit die gemeente opgestaan, 'n spies gevat

8. en die man na die vrouetent toe gevolg. Daar het hy die spies deur albei gesteek, deur die man tot in die onderlyf van die vrou. Daarmee het die ramp onder die Israeliete tot 'n einde gekom;

9. daar het vier en twintig duisend deur die ramp gesterf.

10. Die Here het toe vir Moses gesê:

11. “Pinehas seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, het my toorn teen Israel laat ophou deurdat hy vir my eer opgekom het. Dit was nie nodig dat Ek self vir my eer moes opkom en die Israeliete vernietig nie.

12. “Daarom moet jy vir Pinehas sê dat Ek 'n verbond met hom sluit wat hom vir altyd ten goede sal kom.

13. Hierdie verbond verseker vir hom en vir sy nageslag 'n blywende priesterskap omdat hy vir die eer van sy God opgekom het en vir die Israeliete versoening gedoen het.”

14. Die Israelitiese man wat saam met die Midianitiese vrou doodgemaak is, was Simri seun van Salu, 'n vooraanstaande man uit die stam Simeon.

15. Die Midianitiese vrou wat doodgemaak is, was Kosbi dogter van Sur, 'n stamhoof van Midian.

16. Die Here het vir Moses gesê:

17. “Julle moet die Midianiete as julle vyande beskou en hulle doodmaak

18. omdat hulle vyandig opgetree het teen julle. Hulle het julle verlei deur julle in die strik te laat trap van Baäl-Peor en van hulle landgenoot Kosbi, 'n Midianitiese stamhoof se dogter wat doodgemaak is toe die ramp julle oor Peor getref het.”

Numeri 25