4. Toe Moses dit hoor, het hy op sy knieë geval en gebid.
5. Daarna het hy vir Korag en sy hele bende gesê: “Môreoggend sal die Here die persoon aanwys wat aan Hom behoort en wat gewy is en sal Hy hom toelaat om by die altaar te kom. Die persoon wat Hy verkies, sal Hy na die altaar toe laat kom.
6. Korag, jy en almal by jou moet dít doen: vat môre vir julle vuurpanne,
7. sit vuur daarin, plaas wierook daarop en bring dit altaar toe. Die man vir wie die Here verkies, is die gewyde. Julle Leviete matig julle te veel aan!”
8. Verder het Moses vir Korag-hulle gesê: “Luister, Leviete!
9. Is julle nie daarmee tevrede dat die God van Israel júlle uit die gemeente van Israel afgesonder het om in die heiligdom diens te doen en om die dienswerk in die tabernakel van die Here te verrig in belang van die gemeente vir wie julle bedien nie?
10. Hy het jóú, Korag, en al jou Levitiese ampsgenote saam met jou laat diens doen in die heiligdom, maar nou wil julle ook nog die priesterskap inpalm!
11. Dat julle julle teen Aäron verset, is niks nie, maar jy en jou hele bende het 'n komplot teen die Here gesmee.”
12. Daarna het Moses vir Datan en Abiram, seuns van Eliab, laat roep. Maar hulle het gesê: “Ons sal nie kom nie.
13. Is dit nie genoeg dat jy ons laat trek het uit 'n land wat oorloop van melk en heuning om ons in die woestyn te laat omkom nie? En nou wil jy ook nog gedurig oor ons baasspeel!
14. Bowendien het jy ons nie gebring na 'n land toe wat oorloop van melk en heuning nie, en ook nie vir ons lande en wingerde gegee nie. Wil jy hierdie mense aanhou mislei? Ons sal nie kom nie!”
15. Moses het baie kwaad geword en vir die Here gesê: “U moet hulle offergawe nie aanneem nie! Ek het nie 'n enkele donkie van hulle gevat nie en nie een van hulle benadeel nie.”
16. Moses sê toe vir Korag: “Jy en jou hele bende moet môre na die altaar toe kom, jy en hulle en ook Aäron.