Numeri 16:37-46 Afrikaans 1983 (AFR83)

37. “Sê vir die priester Eleasar seun van Aäron hy moet die vuurpanne wegvat waar die brand was en die kole êrens weggooi, want die kole is aan die Here gewy.

38. Van die vuurpanne van die manne wat deur hulle sonde gesterf het, moet julle dun plate maak en die altaar daarmee oortrek, want hulle is by die altaar gebruik en is aan die Here gewy. Hulle moet die Israeliete altyd aan hierdie gebeure herinner.”

39. Die priester Eleasar het toe die bronsvuurpanne gevat wat by die altaar gebruik is deur die manne wat verbrand is, en hulle uitgeklop en die altaar daarmee oorgetrek.

40. Dit moes die Israeliete altyd daaraan herinner dat iemand wat nie uit Aäron se geslag is nie en dus nie daartoe bevoeg is nie, nie 'n wierookoffer na die altaar toe mag bring om dit aan die Here te offer nie. Anders sal so 'n persoon soos Korag en sy bende word oor wie die Here deur middel van Moses uitspraak gelewer het.

41. Die volgende môre het die hele gemeente van Israel teen Moses en Aäron in verset gekom en gesê: “Júlle het die volk van die Here doodgemaak!”

42. Toe die gemeente teen Moses en Aäron bymekaarkom en na die tent van ontmoeting toe draai, het die wolk die tent bedek en het die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar geword.

43. Moses en Aäron het toe na die voorkant van die tent van ontmoeting toe gegaan,

44. en die Here het vir Moses gesê:

45. “Gee pad tussen die gemeente uit dat Ek hulle in 'n oogwink kan verdelg.”Moses en Aäron het op hulle knieë geval en gebid.

46. Moses sê toe vir Aäron: “Vat 'n vuurpan, sit vuur van die altaar af daarin en plaas wierook daarop en gaan gou na die gemeente toe en doen vir hulle versoening. Die toorn van die Here het reeds ontvlam en Hy het hulle met 'n plaag begin straf.”

Numeri 16