Numeri 16:27-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

27. Die gemeente het toe van Korag, Datan en Abiram se tente af padgegee. Datan en Abiram het uitgekom saam met hulle vrouens, hulle kinders en almal onder hulle sorg en voor hulle tente gaan staan.

28. Toe sê Moses: “Hieraan sal julle weet dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen en dat dit nie uit myself is nie.

29. As hierdie manne 'n gewone dood sterf en dit met hulle gaan soos dit met elke mens gaan, het die Here my nie gestuur nie!

30. Maar as die Here iets nuuts laat gebeur en die aarde sy mond oopmaak en hulle insluk saam met alles wat aan hulle behoort, sodat hulle lewend in die doderyk afgaan, sal julle weet dat hierdie mense die Here geminag het.”

31. Net toe Moses klaar gepraat het, skeur die grond onder hulle oop

32. en maak die aarde sy mond oop en sluk vir Datan en Abiram met hulle gesinne in en ook vir Korag en al die manne by hom saam met hulle besittings.

33. Hulle en alles wat aan hulle behoort, het lewend in die doderyk afgegaan; die aarde het hulle bedek, en so het hulle uit die gemeente verdwyn.

34. Al die Israeliete in die omgewing het gevlug toe hulle die geskree hoor, want hulle het gedink: dalk sluk die aarde ons ook in!

Numeri 16