Numeri 16:23-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Toe sê die Here vir Moses:

24. “Sê vir die gemeente: Gee pad van Korag, Datan en Abiram se tente af!”

25. Daarna het Moses na Datan en Abiram toe gegaan, en die leiers van Israel het hom gevolg.

26. Hy sê toe vir die gemeente: “Gee pad van die tente van hierdie goddelose mense af! Moenie aan iets van hulle raak nie, dat julle nie deur al hulle sondes omkom nie.”

27. Die gemeente het toe van Korag, Datan en Abiram se tente af padgegee. Datan en Abiram het uitgekom saam met hulle vrouens, hulle kinders en almal onder hulle sorg en voor hulle tente gaan staan.

28. Toe sê Moses: “Hieraan sal julle weet dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen en dat dit nie uit myself is nie.

29. As hierdie manne 'n gewone dood sterf en dit met hulle gaan soos dit met elke mens gaan, het die Here my nie gestuur nie!

30. Maar as die Here iets nuuts laat gebeur en die aarde sy mond oopmaak en hulle insluk saam met alles wat aan hulle behoort, sodat hulle lewend in die doderyk afgaan, sal julle weet dat hierdie mense die Here geminag het.”

31. Net toe Moses klaar gepraat het, skeur die grond onder hulle oop

32. en maak die aarde sy mond oop en sluk vir Datan en Abiram met hulle gesinne in en ook vir Korag en al die manne by hom saam met hulle besittings.

33. Hulle en alles wat aan hulle behoort, het lewend in die doderyk afgegaan; die aarde het hulle bedek, en so het hulle uit die gemeente verdwyn.

34. Al die Israeliete in die omgewing het gevlug toe hulle die geskree hoor, want hulle het gedink: dalk sluk die aarde ons ook in!

35. Toe het die Here 'n vuur gestuur en dit het die twee honderd en vyftig man wat die wierookoffer wou bring, verteer.

36. Daarna het die Here vir Moses beveel:

37. “Sê vir die priester Eleasar seun van Aäron hy moet die vuurpanne wegvat waar die brand was en die kole êrens weggooi, want die kole is aan die Here gewy.

38. Van die vuurpanne van die manne wat deur hulle sonde gesterf het, moet julle dun plate maak en die altaar daarmee oortrek, want hulle is by die altaar gebruik en is aan die Here gewy. Hulle moet die Israeliete altyd aan hierdie gebeure herinner.”

39. Die priester Eleasar het toe die bronsvuurpanne gevat wat by die altaar gebruik is deur die manne wat verbrand is, en hulle uitgeklop en die altaar daarmee oorgetrek.

40. Dit moes die Israeliete altyd daaraan herinner dat iemand wat nie uit Aäron se geslag is nie en dus nie daartoe bevoeg is nie, nie 'n wierookoffer na die altaar toe mag bring om dit aan die Here te offer nie. Anders sal so 'n persoon soos Korag en sy bende word oor wie die Here deur middel van Moses uitspraak gelewer het.

41. Die volgende môre het die hele gemeente van Israel teen Moses en Aäron in verset gekom en gesê: “Júlle het die volk van die Here doodgemaak!”

Numeri 16