Numeri 15:6-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. “Vir 'n ram moet jy 'n graanoffer aanbied van drie kilogram meel, gemeng met een en 'n derde liter olie,

7. en daarby een en 'n derde liter wyn as drankoffer. Jy moet dit bring dat dit vir My, die Here, aanvaarbaar is.

8. “As jy 'n jong bul as brandoffer of ander diereoffer aanbied om 'n gelofte te betaal of as ander maaltydoffer aan My,

9. moet jy by die bul vier en 'n half kilogram meel, gemeng met twee liter olie, as graanoffer bring.

10. Bring ook ongeveer twee liter wyn as drankoffer.“So sal dit 'n vuuroffer wees wat deur My, die Here, aanvaar word.

11. Elke bul, elke ram of lam van skape of bokke moet so aangebied word.

12. Julle moet so maak met elke dier wat julle as vuuroffer aanbied.

13. Elke landsburger wat 'n vuuroffer wil aanbied, wat deur My, die Here, aanvaar word, moet dit op dieselfde manier doen.

14. 'n Vreemdeling wat by julle woon, of iemand wat reeds vir geslagte onder julle is, moet ook 'n vuuroffer aanbied wat deur My aanvaar word. Hy moet presies dieselfde doen as julle.

15. Daar moet in die gemeente dieselfde voorskrif wees vir julle en vir die vreemdeling wat by julle woon. Dit is 'n vaste voorskrif vir julle nageslag dat die vreemdeling net soos julle moet wees voor die Here.

16. Een en dieselfde wet en bepaling moet op julle en op die vreemdeling wat by julle woon, van toepassing wees.”

17. Die Here het ook vir Moses gesê:

18. “Sê vir die Israeliete: As julle in die land kom waarheen Ek julle bring,

19. en julle eet van die land se brood, moet julle 'n offergawe vir My bring.

Numeri 15