Matteus 6:24-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

25. “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?

26. Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

27. Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?

28. En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie.

29. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie.

Matteus 6