Matteus 27:39-47 Afrikaans 1983 (AFR83)

39. Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud

40. en gesê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!”

41. Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot en gesê:

42. “Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo.

43. Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God!”

44. Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.

45. Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur.

46. Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

47. Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.”

Matteus 27