Markus 7:15-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Niks wat van buite af in 'n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit 'n mens uitkom, dít maak hom onrein.”

17. Toe Hy van die menigte af weer huis toe gegaan het, het sy dissipels Hom oor hierdie beeldspraak uitgevra.

18. Hy sê toe vir hulle: “So, dan verstaan julle dit ook nie? Begryp julle nie dat niks wat van buite af in 'n mens ingaan, hom onrein kan maak nie,

19. omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit sy liggaam uitgaan?”Daarmee het Hy alle kos rein verklaar.

20. “Maar,” het Hy verder gesê, “wat van binne af uit 'n mens kom, dít maak 'n mens onrein.

21. Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord,

22. owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid.

23. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak 'n mens onrein.”

24. Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan weggegaan na die gebied van Tirus toe. Daar het Hy in 'n sekere huis tuis gegaan, en Hy wou nie hê dat iemand dit te wete moes kom nie. Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie.

Markus 7