Markus 6:17-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Vroeër het Herodes self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou,

18. en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.”

19. Herodias het daarna 'n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie,

20. want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy 'n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in 'n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister.

21. Op 'n dag het Herodias 'n goeie kans gekry. Toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy hoofamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea 'n feesmaal gegee het,

22. het die dogter van Herodias daar ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en sy gaste gevind. Die koning het toe vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.”

23. Daarby het hy dit herhaaldelik met 'n eed vir haar bevestig: “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot selfs die helfte van my koninkryk.”

24. Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gesê: “Wat moet ek vra?”Dié het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.”

Markus 6