9. en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel.
10. Die vroue was Maria Magdalena en Johanna en Maria die ma van Jakobus. Ook die ander vroue saam met hulle het dieselfde dinge aan die apostels vertel.
11. Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.
12. Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy daar vooroor buk, sien hy net die doeke. Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.
13. Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na 'n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af.
14. Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het.
15. Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop,
16. maar hulle oë is verhinder om Hom te herken.
17. Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?”Met somber gesigte gaan hulle staan,
18. en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?”
19. Hy vra vir hulle: “Watter dinge?”Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, 'n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk;
20. en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het.
21. Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het.
22. En nou het 'n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf
23. en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle 'n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe.
24. Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”