10. Die tweede duif word as brandoffer gebring op die voorgeskrewe wyse. So doen die priester vir die persoon versoening vir die sonde wat hy gedoen het, en word sy sonde vergewe.
11. “As twee tortelduiwe of twee ander duiwe bo die persoon se vermoë is, bring hy as offer vir sy sonde twee kilogram meel as sondeoffer. Hy gooi nie olie daarop nie en sit nie wierook bo-op nie, want dit is 'n sondeoffer.
12. Hy neem die meel na die priester toe, en die priester vat 'n handvol daarvan as simbool vir die hele offer en verbrand dit op die altaar by die vuuroffer vir die Here. Dit is die sondeoffer.
13. So doen die priester vir die persoon versoening vir die sonde wat hy gedoen het in enige van die genoemde gevalle, en so word sy sonde vergewe. Soos by die graanoffer, kom die meel wat oorbly die priester toe.”