Levitikus 14:37-48 Afrikaans 1983 (AFR83)

37. As die priester sien dat die swamme aan die mure van die huis sit en dat dit groenerige of rooierige holtes vorm wat lyk of dit dieper is as die oppervlak van die muur,

38. moet hy uit die huis uitgaan en toegang tot die huis 'n week lank verbied.

39. Op die sewende dag moet die priester die huis weer ondersoek. As die swamme aan die mure versprei het,

40. moet die klippe waaraan die swamme is, uitgebreek word op bevel van die priester en buite die dorp op 'n onrein plek weggegooi word.

41. Al die pleister in die huis moet dan afgekrap en ook buite die dorp op 'n onrein plek gegooi word.

42. Hulle moet dan ander klippe in die muur inbou en die hele huis oorpleister.

43. “As daar weer swamme groei nadat die klippe uitgebreek, die pleister afgekrap en die huis oorgepleister is,

44. moet die priester weer gaan kyk. As dit inderdaad weer uitgeslaan het, is dit skadelike swamme. Daardie huis is onrein.

45. Dit moet afgebreek word en die klippe, houtwerk en klei moet buite die dorp op 'n onrein plek gegooi word.

46. Iemand wat in die huis ingaan in die tyd dat toegang verbied is, sal die res van die dag onrein wees

47. en as hy in die huis slaap of eet, moet hy ook sy klere was.

48. “As die priester egter vind dat die swamme nie weer gegroei het nadat die huis oorgepleister is nie, moet hy dit rein verklaar aangesien daar nie meer swamme is nie.

Levitikus 14