10. Aristargos, wat hier saam met my gevange sit, stuur vir julle groete; ook Markus, die neef van Barnabas. Oor hom het julle reeds opdragte gekry: as hy daar by julle kom, moet julle hom gasvry ontvang.
11. Verder stuur Jesus, wat ook Justus genoem word, groete. Hulle drie is die enigste Jode wat saam met my werk vir die koninkryk van God. Hulle is vir my 'n groot troos.
12. Epafras, wat een van julle is, stuur vir julle groete. Hy staan in diens van Christus Jesus en bid altyd ernstig vir julle dat julle staande mag bly, geestelik volwasse en in alles volkome gehoorsaam aan die wil van God.