14. Dit is oor hierdie mense dat Henog, wat van die sewende geslag ná Adam was, geprofeteer het. Hy het gesê: “Kyk, die Here kom met sy duisende heilige engele
15. en Hy sal oor almal oordeel. Hy sal al die goddeloses, al die sondaars straf oor al die goddelose dinge wat hulle in hulle goddeloosheid gedoen het, en oor al die lasterlike dinge wat hulle teen Hom gesê het.”
16. Hierdie mense kla gedurig en is altyd ontevrede met hulle lot. Hulle leef net volgens hulle eie begeertes, praat groot en sê vleiende dinge van mense om daaruit vir hulleself voordeel te trek.
17. Maar julle, geliefdes, moet die dinge onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus voorheen reeds vir julle geleer het.
18. Hulle het vir julle gesê: “Daar sal in die laaste dae mense wees wie se lewe deur hulle eie goddelose begeertes beheers word, en hulle sal met julle die spot dryf.”
19. Hierdie mense bring verdeeldheid; hulle word deur hulle natuurlike drange beheers en nie deur die Gees van God nie.
20. Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees.