Josua 6:18-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Maar weerhou julle van wat aan die Here behoort. Moet niks vat van wat aan Hom behoort en vernietig moet word nie, anders maak julle dat die kamp van Israel self vernietig moet word en bring julle die dood daaroor.

19. Die silwer en goud en die brons- en ystergoed in die stad is alles aan die Here gewy. Dit moet in die skatkis van die Here kom.”

20. Toe skreeu die manskappe en die ramshorings blaas. Net toe die manskappe die ramshorings hoor, het hulle die aanvalskreet hard uitgeskreeu. Toe stort die mure inmekaar en die manskappe gaan oor, die stad in. Hulle het die stad ingeneem

21. en al wat daarin is, uitgedelg, man en vrou, jonk en oud, selfs die beeste, die skape en die donkies.

22. Vir die twee manne wat die land moes verken, het Josua gesê: “Gaan na die huis van die prostituut toe en bring die vrou en al haar mense uit soos julle haar met 'n eed beloof het.”

23. Die verkenners het toe gegaan en vir Ragab, haar pa en ma, haar broers en al haar mense, haar hele familie, uitgebring en vir hulle 'n plek buite die kamp van Israel ingerig.

Josua 6