11. “Gaan die kamp deur en sê vir die mense: Maak vir julle padkos gereed, want oor drie dae trek julle deur die Jordaan en gaan julle die land in besit neem wat die Here julle God julle as besitting gee.”
12. Vir die stamme Ruben en Gad en vir die halwe Manassestam het Josua gesê:
13. “Julle onthou die woorde van Moses die dienaar van die Here. Hy het vir julle gesê: ‘Die Here julle God sal vir julle 'n vaste woonplek gee; Hy sal julle hierdie gebied gee.’
14. Julle vrouens en kinders en julle vee kan in die gebied aan hierdie kant van die Jordaan bly wat Moses aan julle toegeken het, maar julle, elke weerbare man, moet in formasie voor julle volksgenote uit optrek en hulle help.
15. Eers nadat die Here aan julle volksgenote 'n vaste woonplek gegee het soos vir julle, en hulle ook die gebied in besit geneem het wat die Here julle God aan hulle gee, kan julle terugkom. Dan kan julle julle eie gebied wat Moses die dienaar van die Here aan julle oos van die Jordaan toegeken het, in besit neem.”