Johannes 8:34-43 Afrikaans 1983 (AFR83)

34. Jesus sê toe vir hulle: “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde.

35. 'n Slaaf bly nie vir altyd by 'n huisgesin nie; 'n seun bly vir altyd.

36. Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.

37. Ek weet julle is die nageslag van Abraham. Maar julle wil My doodmaak omdat my woorde nie ingang by julle vind nie.

38. Ek praat oor wat Ek by my Vader gesien het; en julle doen wat julle by julle vader gehoor het.”

39. Hulle het vir Hom gesê: “Ons vader is Abraham.”Daarop sê Jesus vir hulle: “As julle kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het.

40. Maar nou wil julle My doodmaak, vir My wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle verkondig. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie.

41. Julle doen wat julle vader gedoen het.”Hulle sê toe vir Hom: “Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net die een Vader, naamlik God.”

42. Maar Jesus sê vir hulle: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom, en hier is Ek nou. Ek het immers ook nie uit my eie gekom nie, maar Hý het My gestuur.

43. Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle my boodskap nie kán verstaan nie!

Johannes 8