13. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van 'n mens of die besluit van 'n man nie, maar hulle is uit God gebore.
14. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.
15. Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.”
16. Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.
17. God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.
18. Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.
19. Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: “Wie is jy?”Toe het hy hierdie getuienis afgelê
20. en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.”
21. Hulle vra hom toe: “Wie is jy dan? Is jy Elia?”“Nee, ek is nie,” sê hy.“Is jy dan die Profeet?”“Nee!” het hy geantwoord.
22. “Nou maar wie is jy dan? Ons moet 'n antwoord gaan gee aan dié wat ons gestuur het,” sê hulle vir hom. “Wat het jy oor jouself te sê?”
23. Hy antwoord toe:“Ek is die een wat in die woestyn roep:Maak die pad vir die Here reguit.”Dit is soos die profeet Jesaja gesê het.
24. Daar was Fariseërs onder dié wat gestuur is,
25. en hulle het vir hom gevra: “Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?”
26. Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.
27. Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.”
28. Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.
29. Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!