Job 21:3-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Verdra my terwyl ek praat,en as ek klaar gepraat het, kan julle my verder bespot.

4. My klag is nie teen mense nie.Waarom mag ek dan nie ongeduldig word nie?

5. Kyk na my, dan sal julle verstom staanen van verbasing die hand op die mond lê.

6. As ek hieraan dink, skrik ek,gaan ek aan die bewe:

7. Waarom bly die goddeloses aan die lewe,word hulle oud en ryk en vernaam?

8. Hulle kinders raak gevestig rondom hulle,hulle sien hulle nageslagte.

9. Daar is vrede in hulle huise, geen vrees nie,die straf van God tref hulle nie.

10. Hulle bulle dek die koeie en slaan nie een oor nie,hulle koeie kalf en het geen misgeboorte nie.

11. Hulle laat hulle kindertjies los rondloop soos kleinvee,hulle kleintjies baljaar vrolik rond.

12. Hulle sing met begeleiding van die tamboeryn en die lier,hulle is vrolik by die geluid van die fluit.

13. Hulle slyt hulle lewens in voorspoed,hulle gaan in vrede die doderyk binne.

14. Maar tog is dit hulle wat vir God sê: ‘Laat staan ons, ons weier om u wil te ken.

15. Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien? Watter nut het dit om Hom te aanbid?’

16. “Maar hulle voorspoed is nie in hulle eie hande nie,daarom bly ek weg van die raad wat van goddeloses af kom.

17. Hoe dikwels word die lewenslamp van die goddeloses uitgedoof,kom 'n ramp oor hulle,laat God in sy toorn onheil oor hulle kom?

18. Hoe dikwels is hulle soos kaf voor die wind,soos stoppels wat weggewaai word deur die stormwind?

19. Spaar God dan sy rampe op vir die goddelose se kinders?God moet hom tog straf dat hy dit self weet!

20. Hy moet sy ondergang met sy eie oë sien,hy moet self die toorn van die Almagtige ondervind.

Job 21