Jesaja 8:13-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Julle moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hóm moet julle bang wees.

14. Hý sal vir julle 'n veilige beskutting wees, maar vir die twee koninkryke Juda en Israel sal Hy 'n klip wees waarteen 'n mens jou stamp, 'n rots waaroor jy struikel. Vir die inwoners van Jerusalem sal Hy 'n vangnet en 'n strik wees.

15. Baie van hulle sal struikel en val, verstrik en gevang word; hulle sal verpletter word.

16. Bly eers stil oor my prediking,laat my volgelinge vir hulleself hou wat ek hulle geleer het.

17. Ek vertrou op die Herewat Hom vir die nageslag van Jakob verberg,op Hóm hoop ek.

18. Hier is ek en die kinders wat die Here vir my gegee het. Ons is in Israel lewende getuies van die Here die Almagtige wat op Sionsberg woon.

19. Mense sê julle moet mediums en spiritiste raadpleeg wat fluister en mompel, maar moet 'n volk nie sy God raadpleeg nie? Waarom sou 'n mens dooies in belang van lewendes raadpleeg?

20. Terug na die wet en die getuienis van die Here! Wie nie volgens hierdie woord praat nie, is sonder toekoms!

21. Bedruk en honger sal hy deur die land trek. Wanneer die hongersnood hom tref, sal hy kwaad word en sal hy sy koning en sy God vervloek. Hy sal boontoe

22. en ondertoe kyk, maar hy sal niks anders sien as benoudheid en donkerte nie, die volslae duisternis en donkerte waarin hulle gedryf is.

23. Maar in die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie. In die verlede het die Here die gebiede Sebulon en Naftali verneder, maar in die toekoms sal Hy die pad na die see van Galilea toe, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene in ere herstel.

Jesaja 8