Jesaja 7:6-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Hulle het vir mekaar gesê: Kom ons val Juda aan en oorrompel hom. Dan verdeel ons die land onder ons en ons maak die seun van Tabeal koning van Juda.

7. Maar so sê Ek, die Here jou God:Dit sal nie plaasvind nie,dit sal nie gebeur nie,

8. want dit is maar net Damaskus wat die hoofstad van Aram is en net Resin wat die koning van Damaskus is. Efraim sal binne vyf en sestig jaar so verwoes word dat hy geen volk meer sal wees nie,

9. want dit is maar net Samaria wat die hoofstad van Efraim is en net Peka seun van Remalja wat koning van Samaria is.Maar ook julle sal nie standhouas julle nie in geloof standhou nie.

10. Verder het die Here gesê: Jy moet ook nog vir Agas sê:

11. Vra van die Here jou God 'n teken, enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo.

12. Maar Agas het geantwoord:“Ek sal niks vra nie, ek sal die Here nie tart nie.”

13. Toe sê Jesaja:“Luister, geslag van Dawid!Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie, dat julle nou ook my God moet vermoei?

14. Die Here sal daarom self vir julle 'n teken gee: 'n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.

15. Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is.

16. Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.

17. “Wat jou, jou volk en jou familie betref, die Here sal 'n tyd oor julle laat kom soos daar nie was sedert die dae toe Efraim van Juda af weggebreek het nie. Dit sal gebeur deur die koning van Assirië.

18. “In dié tyd sal die Here fluit vir die vlieë ver langs die riviere van Egipte en vir die bye in Assirië.

Jesaja 7