15. Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is.
16. Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.
17. “Wat jou, jou volk en jou familie betref, die Here sal 'n tyd oor julle laat kom soos daar nie was sedert die dae toe Efraim van Juda af weggebreek het nie. Dit sal gebeur deur die koning van Assirië.
18. “In dié tyd sal die Here fluit vir die vlieë ver langs die riviere van Egipte en vir die bye in Assirië.
19. Hulle sal almal kom en gaan sit in die steil klowe en in die rotsskeure en op al die doringbosse en by al die drinkplekke.
20. “In dié tyd sal die Here julle kaalskeer, die hare op julle koppe en op julle liggame, en ook julle baarde. Hy sal dit doen met 'n skeermes wat oorkant die Eufraat gehuur is, die koning van Assirië.
21. “In dié tyd sal iemand wat net 'n jong koei en twee ooie aan die lewe hou,
22. dikmelk hê om te eet danksy die oorvloed melk wat hulle gee. Dié wat in die land oorbly, sal almal dikmelk en heuning eet.
23. “In dié tyd sal elke stuk grond waar 'n duisend waardevolle wingerdstokke gestaan het, oortrek wees van dorings en dissels.
24. 'n Mens sal daar net met 'n pyl en boog kan kom, omdat die hele land vol dorings en dissels sal wees.
25. Uit vrees vir die dorings en dissels sal niemand meer êrens op die heuwels kan kom wat voorheen met 'n pik bewerk is nie. Dit sal net 'n plek wees waar 'n mens beeste injaag en wat deur kleinvee vertrap word.”