Jeremia 8:2-7 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. en uitsprei voor die son, die maan en al die ander hemelliggame vir wie hulle lief was en gedien het, agter wie hulle aangeloop het, vir wie hulle geraadpleeg het en voor wie hulle gebuig het. Die bene sal nie weer bymekaargemaak en begrawe word nie; soos mis sal hulle bo-op die grond bly lê.

3. Vir die res, vir almal wat daar miskien nog oor is, wat oorgebly het van hierdie slegte geslag in al die plekke waarheen Ek hulle verdryf het, sal die dood verkiesliker wees as die lewe, sê die Here die Almagtige.

4. Jy moet vir hulle sê: So sê die Here: Sal iemand val en nie opstaan nie, of wegdraai en nie terugdraai nie?

5. Waarom draai hierdie volk weg van My af, en waarom hou Jerusalem aan om van My af weg te draai? Hulle hou vol met hulle bedrog, hulle weier om na My toe terug te draai.

6. Ek het goed geluister en Ek het gehoor dat hulle nie die waarheid praat nie, niemand het berou oor sy sonde nie, niemand sê: “Wat het ek tog gedoen!” nie. Elkeen breek met vaart van My af weg soos 'n perd uit 'n geveg wegstorm.

7. Die trekooievaar ken sy tye van kom en gaan, die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël kom op 'n vaste tyd terug, maar my volk wil nie weet wat die Here vir hulle vasgestel het nie.

Jeremia 8