Jeremia 36:11-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Toe Miga seun van Gemarja, seun van Safan, al die woorde van die Here hoor uit die boek,

12. het Miga na die staatsekretaris se kantoor in die paleis toe gegaan. Al die amptenare, Elisama die staatsekretaris, Delaja seun van Semaja, Elnatan seun van Akbor, Gemarja seun van Safan, Sedekia seun van Gananja en al die ander amptenare het daar gesit.

13. Miga het vir hulle alles vertel wat hy Baruk vir die volk uit die boek hoor lees het.

14. Toe stuur al die amptenare vir Jehudi seun van Netanja, seun van Selemja, seun van Kusi na Baruk toe om vir hom te sê: “Vat die boekrol waaruit jy vir die volk gelees het en kom hier.” Baruk seun van Nerija het toe die boekrol gevat en na hulle toe gegaan.

15. Hulle het vir hom gesê: “Sit, en lees dit vir ons.”Baruk het dit toe vir hulle gelees.

16. Toe hulle alles hoor, het hulle bang geword en vir Baruk gesê: “Ons moet dit alles vir die koning gaan vertel.”

17. Hulle het vir Baruk gevra: “Sê vir ons, hoe het jy dit alles geskryf? Het Jeremia dit gedikteer?”

18. Baruk het hulle geantwoord: “Alles is vir my gedikteer en ek het dit met ink op die boekrol geskryf.”

19. Die amptenare het vir Baruk gesê: “Gaan kruip weg, jy en Jeremia, en niemand moet weet waar julle is nie.”

Jeremia 36