10. Israel se hoogmoed getuig teen hom. Hulle het nie teruggekeer na My, die Here hulle God, nie en het te midde van dit alles nie na my wil gevra nie.
11. Efraim het geword soos 'n duif: dom en sonder verstand. Hulle het vir Egipte gekoer, maar Assirië toe gevlieg.
12. Maar elke keer as hulle daarheen gaan, sal Ek my vangnet oor hulle gooi; Ek sal hulle soos voëls neertrek, Ek sal hulle vastrek sodra Ek die gedruis van die swerm hoor.
13. Ellende wag vir hulle omdat hulle van My af wegvlug! Daar wag teëspoed vir hulle omdat hulle teen My in opstand is! Ek was bereid om hulle te red, maar hulle lieg vir My.
14. Toe hulle na My om hulp geroep het, het dit nie uit die hart gekom nie, want hulle lê op hulle beddens en kerm en sny hulleself stukkend ter wille van koring en wyn. Hulle verset hulle teen My
15. alhoewel Ek hulle gewaarsku het. Toe Ek hulle gehelp het, het hulle opstand beplan teen My
16. en hulp gesoek by wat nie kon help nie. Hulle het so nutteloos geword soos 'n slap boog. Hulle leiers sal met die swaard afgemaai word, hulle sal die slagoffers word van die vervloeking wat hulle oor hulleself uitgespreek het as hulle aan my verbond ongehoorsaam sou wees. En Egipte sal daaroor lag.