Hebreërs 5:7-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God.

8. Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is.

9. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword

10. en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

11. In verband hiermee het ons baie te sê wat moeilik is om aan julle te verduidelik, aangesien julle so traag is om te leer.

12. Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig. 'n Mens moet julle met melk voed en nie met vaste kos nie.

13. Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog 'n kind.

14. Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.

Hebreërs 5