Hebreërs 12:16-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het.

17. Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek.

18. Julle het immers nie gekom by 'n tasbare berg met brandende vuur, donderwolke, duisternis, stormwind,

19. trompetgeskal en geklank van woorde nie. Hulle wat dit gehoor het, het gesmeek dat geen woord meer tot hulle gerig moes word nie.

20. Die bevel dat selfs 'n dier wat aan die berg raak, met klippe doodgegooi moet word, was vir hulle ondraaglik.

21. So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: “Ek sidder van angs!”

22. Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms,

23. die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is,

24. by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.

Hebreërs 12