Handelinge 3:13-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, goddelike eer gegee — aan Hom vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het toe hy beslis het dat Hy vrygelaat moes word.

14. Hy was heilig en opreg, maar júlle het Hom verwerp en gevra dat daar vir julle 'n moordenaar begenadig moet word.

15. So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek, en daarvan is ons getuies.

16. Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal.

17. “Nou weet ek, broers, dat julle net soos julle leiers in onkunde gehandel het.

18. Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur.

19. Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis.

20. En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is.

21. Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê.

Handelinge 3