Genesis 34:19-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. Die jongman Sigem wou nie die saak laat sloer nie, want hy was lief vir Jakob se dogter. Omdat Gamor en Sigem die meeste gesag onder hulle mense gehad het,

20. het hulle na die stadspoort toe gegaan en daar vir die mans van die stad gesê:

21. “Hierdie vreemde mense het met goeie bedoelings na ons toe gekom. Hulle wil hier kom bly en met hulle kuddes in ons land rond trek: die land is groot en lê oop voor hulle. Dan kan ons met hulle dogters trou en hulle met ons s'n.

22. Hierdie mense sal egter net by ons kom bly en saam met ons een volk word as al ons mansmense besny word soos dit by hulle is.

23. Hulle kuddes, al hulle vee, hulle besittings, word ons eiendom as ons instem, en dan sal hulle by ons bly.”

24. Al die mans van die stad het na Gamor en sy seun Sigem geluister, en hulle almal is besny.

25. Drie dae later toe hulle baie pyn gehad het, het Jakob se twee seuns Simeon en Levi, die broers van Dina, elkeen sy swaard gevat en sonder om agterdog te wek, die stad ingegaan en al die mans doodgemaak,

26. ook vir Gamor en sy seun Sigem. Hulle het vir Dina uit Sigem se huis uit weggevat en uit die stad uit gegaan.

27. Jakob se seuns het toe op die slagoffers toegesak en die stad geplunder omdat hulle suster daar onteer is:

28. kleinvee, beeste, donkies, alles in die stad en alles in die veld het hulle vir hulle gevat.

29. Ja, hulle het alles geplunder wat daar in die stad was, hulle het alles wat in die huise was, buitgemaak; ook die kinders en vrouens is as gevangenes saamgevat.

30. Toe sê Jakob vir Simeon en Levi: “Julle het my in die moeilikheid gebring, want julle het my naam sleg gemaak by die mense van hierdie land, die Kanaäniete en die Feresiete. Ek het maar 'n klein klompie mans by my. As die mense van die land almal saamstaan teen my, sal hulle my en my mense verslaan en ons om die lewe bring.”

31. Toe antwoord hulle: “Hy moes nie ons suster soos 'n hoer behandel het nie!”

Genesis 34