Genesis 34:13-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Jakob se seuns het egter nie vir Sigem en sy pa Gamor 'n reguit antwoord gegee nie, want die broers se suster Dina was onteer.

14. Hulle het toe gesê: “Ons kan nie ons suster sommer so laat trou met 'n man wat nie besny is nie. Dit is vir ons 'n ongehoorde ding.

15. Ons kan net instem as julle soos ons word: besny al julle mans.

16. Dan kan ons ons dogters met julle laat trou en kan ons met julle dogters trou. Dan sal ons by julle bly en ons sal een volk word.

17. Maar as julle nie na ons luister nie en julle nie laat besny nie, sal ons ons suster vat en wegtrek.”

18. Gamor en sy seun Sigem het hiertoe ingestem.

19. Die jongman Sigem wou nie die saak laat sloer nie, want hy was lief vir Jakob se dogter. Omdat Gamor en Sigem die meeste gesag onder hulle mense gehad het,

20. het hulle na die stadspoort toe gegaan en daar vir die mans van die stad gesê:

21. “Hierdie vreemde mense het met goeie bedoelings na ons toe gekom. Hulle wil hier kom bly en met hulle kuddes in ons land rond trek: die land is groot en lê oop voor hulle. Dan kan ons met hulle dogters trou en hulle met ons s'n.

22. Hierdie mense sal egter net by ons kom bly en saam met ons een volk word as al ons mansmense besny word soos dit by hulle is.

23. Hulle kuddes, al hulle vee, hulle besittings, word ons eiendom as ons instem, en dan sal hulle by ons bly.”

24. Al die mans van die stad het na Gamor en sy seun Sigem geluister, en hulle almal is besny.

25. Drie dae later toe hulle baie pyn gehad het, het Jakob se twee seuns Simeon en Levi, die broers van Dina, elkeen sy swaard gevat en sonder om agterdog te wek, die stad ingegaan en al die mans doodgemaak,

26. ook vir Gamor en sy seun Sigem. Hulle het vir Dina uit Sigem se huis uit weggevat en uit die stad uit gegaan.

27. Jakob se seuns het toe op die slagoffers toegesak en die stad geplunder omdat hulle suster daar onteer is:

Genesis 34